KAMERS/Makers in Stellenbosch

KAMERS/Makers is om die draai en die opwinding kan reeds aangevoel word in die strate van Stellenbosch! Lees verder om meer uit te vind oor wat in stoor is by hierdie jaar se feestelike aangeleentheid… *Alle fotos geneem deur Lauren Kim

 

 

“KAMERS/Makers is volstoom aan die gang met ons besonderse jaar waarin ons opnuut die kuns van mooimaak op allerlei maniere uitleef. Dit is ook ’n jaar waarin ons die filosofie volhou om met ’n oop hand te gee en te ontvang. Hierdeur probeer ons soveel as moontlik gemeenskappe by ons doen en lates laat baat.

 

 

Ná April-maand se ongeëwenaarde suksesvolle opskiet-vertoonvenster in Johannesburg het ons in Mei nog ’n KAMERS/Makers in Kaapstad se historiese Kasteel gehou, waar die eerste van ons Mzansi Makers projekte met groot sukses ten toon gestel is.

 

 

Mzansi Makers is ons nuutgestigde nie-winsgewende organisasie wat talentvolle makers van voorheen benadeelde gemeenskappe betrek en deur mentorskapprogramme ontwikkel, om sodoende ook opkomende kunstenaars by KAMERS/Makers in te sluit. So help ons nie net hierdie makers om hul vaardighede te verbeter nie, maar gee hulle ook ’n platform om suksevolle kunste-besighede te begin.

 

 

Gedurende die afgelope vyftien jaar het KAMERS tientalle Makers aan die hoofstroom handelsmark bekendgestel, waar hulle nou volhoubare besighede bedryf. Verskeie het gevestigde name in Suid-Afrika geraak. Vanjaar word hierdie tendens voortgesit met drie van ons makers wat uitvoerkontrakte na Holland, Milan en Florida finaliseer – alles te danke aan hul teenwoordigheid by KAMERS/Makers!

Met hierdie momentum stel ons vyf nuwe Mzansi Makers-projekte by KAMERS/Makers Somer 2017 bekend, beginende by die asemrowende Anura Wingerde, naby die N1 buite Stellenbosch.

 

In lyn met ons missie om die land se varsste talent te ontdek, sal daar meer as dertig splinternuwe Makers by hierdie opskiet-vertoonvenster wees! Ons trotse vennoot, Absa, sal weereens die nuutste innoverende betalingsmetodes aanbied om sodoende dit makliker as ooit te maak om jou gratis, versamelaarstuk inkopiesak met unieke KAMERS/Makers-produkte vol te maak.

 

Ons sluit 2017 af met ’n gunsteling vir ons Pretoria en Jozi-aanhangers – KAMERS/Makers Irene, terug by Southdowns College naby Centurion vir die sesde keer. Sonder om te veel weg te gee kan ons belowe dit gaan beter as ooit wees!

 

En as die wag steeds nét te lank is, vind die wonder van KAMERS/Makers aanlyn by shop.kamersvol.com dwarsdeur die jaar!”

Vir meer detail oor die verskeie werkswinkels wat jy kan bywoon, klik hier.