Oorplantings: Drie vroue aan die voorpunt

DIT WAS SO GEPAS: 50 jaar nadat Chris Barnard die wêreld se eerste hartoorplanting uitgevoer het, word daar op een dag in Kaapstad tegelykertyd drie oorplantings gedoen – dít te midde van die grootste tekort aan skenkerorgane in twee dekades. Die dag daarna volg nog ’n orgaanoorplanting.

En al dié lewensveranderende en lewensreddende operasies was te danke aan één mens wat genoeg omgegee het om voor sy heengaan te bepaal dat sy organe gebruik kan word om ander se lewe te verleng …

Sou jy op ‘n Woensdagmiddag by enigeen van die drie betrokke operasieteaters inloer, sou jy van die wêreld se voorste oorplantingchirurge in diepe konsentrasie aan die werk sien, drie vroue wat elkeen op haar eie terrein reeds verskeie grense verskuif het.

In Teater Vier van die Christiaan Barnard-Gedenkhospitaal was dr. Susan Vosloo besig om die skenkerhart in die borskas van ’n langafstandswemmer oor te plant. Twee deure verder het prof. Elmin Steyn in Teater Twee ’n nieroorplanting uitgevoer. En in die Netcare UK Privaat Akademiese Hospitaal – die privaat vleuel van die Groote Schuur-hospitaal – is dieselfde skenker se lewer terselfdertyd deur prof. Elmi Muller oorgeplant. Elders in Groote Schuur het nog ’n pasiënt op die tweede nier gewag, en Elmi sou die volgende oggend sy operasie behartig.

Susan, Elmin en Elmi is vandag al drie wêreldleiers op die gebied van orgaanoorplanting, en elkeen is uit eie reg ’n baanbreker wat van jongs af daaraan gewoond was om operasies aan te durf waarvoor ander artse nie kans gesien het nie. Hul dryfveer was nog altyd in die eerste plek die nood van die pasiënt, en min dinge (of mense) kon in hul pad staan as hulle eers besluit het om iets aan daardie

 

prof. Elmin Steyn

NIERE VIR ALMAL

Prof. Elmin Steyn is deesdae hoof van chirurgie by die Universiteit Stellenbosch se fakulteit geneeskun- de en gesondheidswetenskappe. Maar sy was nog ’n groentjie by die destydse Medunsa (vandag die me- diese fakulteit van die Universiteit van Limpopo) toe sy haar kollegas in die jare 80 by ’n oorplantingskon- gres laat regop sit het. Die sukses wat sy en haar span met nieroorplantings by die destydse Garankuwa- hospitaal (vandag die Dr. George Mukhari Akademiese Hospitaal) behaal het, was ongeëwenaar, selfs in verge- lyking met die gevestigde eenhede van Wits en Groote Schuur. Tot op daardie tydstip was nieroorplantings min swart pasiënte beskore, want chirurge het gereken die pasiënte sou nie agterna hul teenverwerpingsmedikasie getrou genoeg drink nie … Elmin en haar span het dié siening gou verkeerd bewys.

“Ons het dit gedoen, want niemand anders het nie. Die pasiënte het ons nodig gehad,” sê sy eenvoudig.

 

Elmin word beskou as een van die land se beste nieroor- plantingchirurge en lei die nieroorplantingsprogram by die Christiaan Barnard-Gedenkhospitaal, waar sy weekliks nieroorplantings uitvoer – meestal van lewende skenkers, omdat skenkerorgane so skaars is.

Vir haar, soos vir die ander oorplantingchirurge, is die toenemende en kritieke tekort aan skenkerorgane ’n groot bron van kommer, veral omdat organe met ál groter sukses oorgeplant kan word.

Met nierskenkings van lewende familielede is die gemiddelde tienjaar-oorlewingsyfer meer as 80 persent. Die langslewende nieroorplantingpasiënt vier vanjaar sy 40ste jaar met sy skenkernier.

 

Elke nieroorplanting verleng in der waarheid die lewe van twee pasiënte, aangesien die pasiënt met die nuwe nier plek vir iemand anders by die dialisemasjien maak. En terwyl die gebrek aan skenker-organe baie nierpasiënte tot ’n lewe van dialise gedoem, hou dit vir hart-, long- en lewerpasiënte ’n doodsvonnis in.

 

Dr. Susan Vosloo

GEEN HART IS TE VER NIE

Dit was juis die gebrek aan skenkerharte wat in die tagtigerjare daar- toe gelei het dat Susan Vosloo as jong hartchirurg by Groote Schuur noodvlugte begin reël het om skenkerharte elders in die land te gaan haal. In 1989 het sy op koerantvoorblaaie beland toe sy daarin kon slaag om ná ’n verbete jaagtog teen tyd ’n skenkerhart binne die bestek van die kritieke vier uur suksesvol in die liggaam van die ontvanger te laat klop.

“Ek het die een ná die ander hartpasiënt op die oorplantings- waglys sien sterf voor ’n geskikte skenkerhart verwys is. Ek kon nie langer stilsit nie. Ek moes ’n plan maak. Ek het geweet dat as ek skenkerharte met noodvlugte elders in die land kon gaan haal, ons dit betyds in Kaapstad sou kon oorplant,” vertel Susan.

Die druk waaronder ’n hartchirurg in sulke omstandighede moet opereer, is ondenkbaar. Soms is daar net ’n uur speling om die skenkerhart in die borskas te plaas en alle verbindings met fyn stekies onder vergrootglase behoorlik vas te werk. Dis senutergend.

 

 

Susan het dit gedoen. Die res is mediese geskiedenis. Volgens prof. Bruno Reichart, destyds hoof van die Groote Schuur-hospitaal se hartspan, het Susan op haar eentjie nuwe lewe in die hartoorplan- tingsprogram geblaas. Met haar aan die stuur is daar destyds twee jaar agtereenvolgens byna 40 hartoorplantings by Groote Schuur uit- gevoer teenoor die voorafgaande 10 tot 15 per jaar.

Sy het haar sukses by die universiteitshospitaal opgevolg deur 22 jaar gelede die eerste hartoorplanting in ’n privaat hospitaal te behartig. Die meeste dokters het gereken só ’n operasie is onmoont- lik buite ’n akademiese hospitaal, maar sy het hulle verkeerd bewys.

 

Prof. Elmi Muller

VEGTER VIR MIV-REGTE

Prof. Elmi Muller, hoof van chirurgie by die Universiteit van Kaap-

stad en dus ook aan die hoof van die lewer- en nieroorplanting- spanne van die Groote Schuur-hospitaal, het eweneens in 2008 ’n klein opskudding in mediese kringe veroorsaak. Sy het die eerste chirurg ter wêreld geword wat niere van MIV-positiewe skenkers in MIV-positiewe ontvangers oorgeplant het.

“Daar was baie MIV-positiewe nierpasiënte in die hospitaal, en ook baie MIV-positiewe skenkers wie se organe nie vir ander ontvangers gebruik kon word nie. Moderne medikasie het vigs van ’n terminale siekte in ’n chroniese siekte verander en dié pasiënte kon gehelp word – maar hulle is nie. Moes ek dit net ignoreer?”

Die gesondheidsowerhede wou die piep kry, maar Elmi stuit nie vir die duiwel as sy reken pasiënte kan gehelp word nie. Sy het met die program voortgegaan en die lewe van talle behoeftige pasiënte verander.

 

Wêreldwye Erkenning

Die baanbrekerswerk van hierdie drie chirurge geniet reeds lank internasionale erkenning. Wat Susan Vosloo betref, was dit haar groot passie, kinderhartchirurgie, wat haar dié aansien besorg het.

Reeds as jong hartchirurg het sy van die heel ingewikkeldste hartoperasies aangepak om aangebore hartafwykings by kinders reg te stel. Chris Barnard het groot respek vir haar gehad en haar betrek by sy projekte om kinders te help.

Sy is al dikwels vir haar werk vereer, maar sy meen die grootste kompliment was dat sy in 2007 ’n stigterslid kon wees van die World Society for Paediatric Cardiology and Cardiac Surgery, en dat sy twee jaar gelede genooi is om Afrika in dié vereniging se bestuurs- raad te verteenwoordig. Niemand kan by hierdie groep uitgelese chirurge aansluit nie; jy kan net genooi word as die bestes in die wêreld vir jou agting het.

 

 

Elmin, die eerste traumachirurg wat in Suid-Afrika geregistreer is, word reeds jare lank as een van die wêreld se beste traumachi- rurge beskou. Sy het in traumachirurgie begin belangstel omdat niemand anders dit wou doen nie. “Maar die nood was oorweldi- gend en die pasiënte is benadeel deur ernstige beserings én die gesondheidstelsel. Ek moes iets daaraan doen.” Sy het, en in die proses is die Tygerberg-hospitaal se trauma-eenheid in ’n eenheid van wêreldgehalte verander.

Toe die Sweedse minister van buitelandse sake Anna Lindh in 2003 sterf nadat sy herhaaldelik met ’n mes gesteek is, het Swede besluit sy dokters moes deur die beste traumadokters op die planeet opgelei word. Die Sweedse artse was immers meer gewoond aan ski-beserings as aan mes- en skietwonde … ’n Internasionale traumachirurgie-opleidingspan is saamgestel om die Swede te gaan bystaan, en Elmin is gevra om ’n lid daarvan te wees. Sy is steeds betrokke by die opleiding van traumachirurge oor die wêreld heen, en is ook die skrywer en medeskrywer van plaaslike sowel as internasionale mediese handboeke oor trauma.

 

 

Die internasionale mediese gemeenskap het ook terdeë kennis geneem van haar kollega Elmi se grensverskuiwende aanslag toe die hoog aangeskrewe mediese joernaal The Lancet in 2012 ’n spe- siale artikel aan haar gewy het met die titel ‘Elmi Muller, bending rules, changing guidelines, making history’. Danksy haar dink die Suid-Afrikaanse mediese establishment nou heeltemal anders oor orgaanoorplantings op MIV-positiewe pasiënte.

Nes Susan en Elmin kan Elmi talle toekennings agter haar naam skryf. Sy is die mediese raadgewer vir verskeie internasionale oorplantingsprogramme in die Midde-Ooste en Afrika, help die Wêreldgesondheidsorganisasie met mediese werksessies oor oor- planting en is betrokke by verskeie navorsingsprojekte saam met die vooraanstaande Johns Hopkins-universiteit in Amerika en die Lund-universiteit in Swede.

 

 

Wat is dit wat ’n dokter dryf om alles in die stryd te werp en oënskynlik onoorkomelike struikelblokke te bowe te kom? Miskien som Susan Vosloo die drie vroue se dryfveer die beste op: “Almal wil graag die wêreld ’n beter plek laat as wat jy dit gekry het deur net jou deeltjie met verantwoordelikheid en integriteit te doen, sodat jy een of 10 jaar later steeds beskou word as die beste vir die pasiënt.” V