Hilda Smits se bundel wen Ingrid Jonker Prys

Hilda Smits is onlangs aangewys as die wenner van die Ingrid Jonker prys vir 2017 vir haar boeiende debuut “die bome reusagtig soos ons was”. In sy resensie beskryf Alwyn Roux die bundel as “voorwaar ʼn merkwaardige debuut wat beslis weer gelees sal word.”

 

 

Geniet weer die “vir ‘n digter” wat in die Herfs 2017 uitgawe van Stellenbosch VISIO verskyn het:

 

 

daar is heuning in jou woorde konsonante tussen jou tande sagte vokale

in jou handskud jou soepel tong vlek my vel oop in die reën in die reën

 

vlek jou sterk soepel tong my oop ek is ’n vrug ek is ’n gedagte in my moeder

se geheime baarmoeder my vingerpunte so klein en teer soos die voelers van

 

’n mier tas na fluweelagtige mure ek lees jou raak daar in braille tussen bloed

en naelstring teen my moeder se hartklop tussen my gedagtes wat die wêreld

 

nog spartelend moet binneduik lees ek jou raak jy vlek my oop daar is iets

in woorde murmel ek vir myself daar is iets in die woorde wat ons lakens vlek

 

so droom van my digter in daardie donker baarmoeder sal ons eendag ontmoet

droom van my soos ’n digter soos Tarkofski soos ’n digter daar is net ligjare

 

tussen ons en die wêreld is ons naelstring die wêreld is ons naelstring en daar

is heuning in jou woorde konsonante tussen jou tande sagte vokale

 

– Uit: die bome reusagtig soos ons was, Protea