Botrivier ’n kaleidoskoop van kleur & geur met Lentenaweek

Volg die klein blou geluksvoëltjie oor die reënboog na die jaarlikse Lentenaweek wat van 1-3 September na die pragtige klein dorpie, Botrivier, kom en in ’n kaleidoskoop van opwindende wyne, kos en egte, plattelandse pret ontplof.

Botrivier se inwoners het net soos die reënboog-tema wat hulle vir vanjaar gekies het, ’n indrukwekkende spektrum aktiwiteite en pret gekies wat net die beste van die streek vertoon. Om die natuur se ontwaking in al sy fasette te vier, sal al die deelnemende wynplase hul deure wyd oopgooi en besoekers gul uitnooi om hul kelderskatte en unieke plaaslike produkte te kom proe, in ’n inkopiereis van plaas tot plaas, wat hul spense tot barstens toe kan volmaak.

 

“Botrivier se wynkelders is ’n ware, warm gemeenskap en die Lentenaweek is een van ons gunsteling saamtrekke, waar ons plase hul ryk erfenis en aanbiedinge met ander deel,” sê Melissa Nelsen van Genevieve MCC.

 

“Dit is wat Botrivier ’n regte klein reënboogdorpie maak; ’n plek wat ons trots ‘huis’ noem. En dis presies waaroor ons Oor die Reënboog Lentenaweek gaan. Dis ’n viering van ons dorpie se diversiteit in sy kleurvolle glorie.”

 

Die stemming vir die propvol naweek-program word reeds by die gewilde Beste van Bot Wyne-ekslusiewe ete op Vrydag 1 September geskep. Die ster van die aand is Forage restaurant se uitvoerende sjef, Gregory Henderson, wat bekend is daarvoor dat hy die plaaslike velde fynkam vir bestanddele vir sy inheemse eet-ervarings; Higgo Jacobs, die hoof van die SA Assosiasie van Sommeliers en mede-sommelier Ewan Mackenzie. Hulle sal saam ’n kundige kos-en-wyn pasmaat-ervaring skep, wat gaste ’n kykie sal gee in wat die res van die naweek op hulle wag. Die ete word by Wildekrans Wynlandgoed gehou en kaartjies teen R850pp, kan deur Quicket (detail onder) bespreek word en sluit ’n Lentenaweek-pas in.

 

 

Saterdag en Sondag sal Botrivier se deelnemende plase hul beste voetjies voorsit en elkeen ’n reënboogkleur uitbeeld en die nuweling in die Botrivier Wynvallei-familie, Arcangeli Family Vineyards, insluit. Die ander plase is Barton Vineyards; Villion Wines; Luddite Wines; Genevieve MCC; Beaumont Family Wines; Gabriëlskloof Wynlandgoed; Rivendell Estate & Vineyards; Paardenkloof Estate en Maremmana Estate.

 

Hoekom ’n kwynende viooltjie wees as jy jou innerlike Italianer kan loslaat by die nuwe Arcangeli Wines, waar ’n BARolo wynkroeg met ’n Italiaanse-Suid-Afrikaanse kinkel op jou wag? Viooltjie is natuurlik Arcangeli se kleur in die reënboogtema, wanneer dit unieke smulsensasies sal aanbied.
Die wingerde by Barton Wines skyn met ’n oranje skynsel, terwyl hulle ’n pret-smorgasbord van burgers tot verfbal, wynversnyding en trekkerritte voorsit. Skryf in vir die wynversnyding-kompetisie en staan die kans om ’n twee-nag wegbreek in een van die pragtige Barton Villas te wen.

 

Wildekrans is vir die hele naweek in pienk getooi en bedien sy MCC Brut Rosé as jy deur die hekke ry. Geniet ’n ligte maal by die wynproekamer of iets meer formeel by Forage; bring die kinders vir trekkerritte of laat hulle al hul energie op die klimraam uitspeel.

 

Villion Family Wines swaai ’n reuse rooi vlag vir die lente en kondig wyd en syd aan dat dit partytjietyd is! Bespreek jou tafel en moenie vergeet om gemaklike skoene te dra vir die Spit & Skoffel aandete-dans op 2 September van 19:30 nie. Daar sal Overberg-lam op die spit wees met komplimentêre wyne op elke tafel en ’n wynkroeg. Die geleentheid word by die Afdaksrivier Kwekery gehou en kaartjies vir die driegang maaltyd, wyne en dans, kos slegs R385pp.

 

Villion se wyne kan regdeur die naweek by die kwekery geproe word, waar die reuse tuin, sandput en springkasteel die kinders sal besighou, voor jy ’n draaitjie by die koffiewinkel gaan maak.

 

Luddite skitter in silwer – ’n kleur heel gepas vir uitblink-wyne en die voortreflike ervaring wat besoekers daar gedurende die fees kan ervaar. Behalwe die jongste oesjare beskikbaar, wat die aanloklike Saboteur White 2017 insluit, is die buitengewone kostrok onder leiding van Jason van die geliefde Kaapstadse bakkery, ook byderhand.

 

Beaumont Family Wines het hul regte op blou opgeëis. Dink aan klein blommetjies en uitgestrekte hemele – en hoe jy sal voel as jy nie vroegtydig bespreek vir die spesiale vertikale proe van die Hope Marguerite, ’n toonaangewende Suid-Afrikaanse Chenin blanc. Het jy kinders? Moenie bekommerd wees nie, daar is die hele naweek ’n kinderoppasserdiens, middagete en daaglikse aktiwiteite om die jongspan mee besig te hou.

 

Genevieve MCC sal in ’n feestelike turkoois getooi wees om ontbyte met borrels by haar nuwe tuiste – Klein Botrivierplaas op die Karwyderskraalpad – te bedien. Die kombuis is Saterdag en Sondag van 09:00 tot 11:30 oop. Kaartjies kos R200 en bespreking is noodsaaklik en kan deur Quicket of by melissa@genevievemcc.co.za gemaak word. Jy kan ook inloer vir ’n proe; leer om ’n bottel soos ’n ware kavalier te sabrage of langer kuier met ’n kaas- of charcuterie bord.

 

Guitige geel is Gabriëlskloof Landgoed se kleur. Die landgoed, ’n pragtige gesinsvriendelike bestemming word die grootste deel van die jaar omsoom deur koring- en kanolalande. Die restaurant spyskaart sal sy inspirasie neem uit speserye en erfenis-kookkuns met geregte en bestanddele soos mielies, kerrievis, bobotie en vele meer. As jy ietsie ligter soek, gaan loer by die proelokaal in vir hul Mzansi Tapas Treffers teen R250/paartjie, wat vier landgoedwyne te proe, insluit. Kinders onder 12 kan verniet van die kinderspyskaart bestel.

 

 

Rivendell Estate & Vineyards skyn ’n goue skynsel vir ’n ware koninklike ervaring. Maak jou tuis vir ’n lang middagete met die vloer tot plafon uitsigte oor die wingerde en berge, terwyl jy die spesiale wyn en peuselhappie-proe geniet om die lente behoorlik te vier.

 

Groen is die teken van nuwe lewe en dis die kleur van Paardenkloof Ecology Lifestyle Farm. Geniet ’n wynproe en fynbosfees in die Garden Restaurant en plaasmark. Woon ’n praatjie oor hoe om tuin-uitleg met fynbos te doen, daagliks om 09:00 en bestel ’n piekniekmandjie vir middagete. Bring die kinders en hul rubberstewels om die groentetuin te ontdek, dierekoppe te vryf in die klein dieretuintjie of bloot net op die klimraam te baljaar. Eindig elkeen van die drie feesdae om 17:00 met ’n aand van jazz, pizza en skemerkelkies. Kaartjies kos R180pp en kan bespreek word by daphne@paardenkloof.co.za of 079 504 3593.

 

 

 

Met jou skemerkelkie in die hand by Maremmana Polo Estate kan jy ook aan jou boereworsrol smul, terwyl die reënboogkleure patrone teen die hemel verf. Die reënboog-kroeg open Saterdagaand van 17:00 tot 19:30.

 

Kaartjies vir die 2017 Botrivier Oor die Reënboog Lentenaweek, kos R100 per persoon en kan saam met kaartjies vir die individuele geleenthede, deur www.quicket.co.za bespreek word, tensy anders aangedui. Die naweek-pas sluit ’n armband en wynglas in, wat by die Botrivier Toerismekantoor opgetel kan word. Quicket-stasies sal vir die naweek by Beaumont, Gabriëlskloof en Wildekrans ingerig word. Kinders onder 18 jaar, kry gratis toegang.